Sutta Nipāta 2.3

Vriendskap

Skaamteloos minagtend is een wat van vriendskap praat
maar sy vriend in die steek laat—
weet ‘my vriend is hy nie’.

Wie teenoor vriende mooipraatjies maak wat op niks uitloop nie—
hóm ken die wyses as ’n niksdoen-prater.

Wie gedurig ’n breuk vermoed
en ywerig uitkyk vir foute
is nie ’n vriend nie.
Maar iemand teen wie jy kan leun soos ’n seun teen die bors van sy pa
is inderdaad ’n onvervreembare vriend.

Aan die juk van menswees wat hy dra bot vrugte
en hy laat die saad van vreugde met geluk as beloning gedy.

Hy proe die smaak van eensaamheid en kalmte,
die soet smaak van waarheidsgenot
sonder vrees, sonder boosheid.