Sutta Nipāta 1.10
Welsyn
Aldus het ek gehoor:
By geleentheid het die Deurlugtige in die buurt van Alavi gewoon, in die blyplek van die demoon Alavaka. Die demoon Alavaka het by die Deurlugtige gekom en gesê:
‘Gaan uit, swerwer!’ ‘Goed, vriend,’ en die Deurlugtige gaan uit. ‘Kom in, swerwer!’ ‘Goed, vriend,’ en die Deurlugtige kom in.
Vir die tweede maal sê die demoon Alavaka vir die Deurlugtige: ‘Gaan uit, swerwer!’ ‘Goed, vriend,’ en die Deurlugtige gaan uit. ‘Kom in, swerwer!’ ‘Goed, vriend,’ en die Deurlugtige kom in.
Vir die derde maal sê die demoon Alavaka vir die Deurlugtige: ‘Gaan uit, swerwer!’ ‘Goed, vriend,’ en die Deurlugtige gaan uit. ‘Kom in, swerwer!’ ‘Goed, vriend,’ en die Deurlugtige kom in.
Vir die vierde maal sê die demoon Alavaka vir die Deurlugtige: ‘Gaan uit, swerwer!’
‘Nee vriend, doen wat jy moet, ek sal nie uitgaan nie.’
‘Ek sal jou ’n vraag vra, swerwer. As jy my nie antwoord nie, sal ek jou gees omver gooi of jou hart skeur of jou aan jou voete optel en oor die Ganges gooi.’
‘Vriend, in die wêreld wat gode en Mara en Brahma insluit en onder wesens wat swerwers en brahmane, gode en mense insluit, sien ek niemand wat my gees omver kan gooi of my hart kan skeur of my aan my voete kan optel en oor die Ganges gooi nie. Maar vra gerus wat jy wil.’
Toe het die demoon Alavaka die Deurlugtige in ’n vers aangespreek:
‘Wat is in hierdie lewe die grootste skat?
Watter dissipline lei tot die hoogste geluk?
Wat is die allersoetste smaak?
Wat is die beste wyse van leef, sê hulle?’‘Vertroue is in hierdie lewe die grootste skat.
Dhamma-dissipline lei tot die hoogste geluk.
Waarheid is die allersoetste smaak.
Wys leef is die beste, sê hulle.’‘Hoe steek mens die stormvloed oor?
Hoe steek mens die oseaan oor?
Hoe kom mens by ellende verby?
Hoe kom mens skoon?’‘Met vertroue steek mens die stormvloed oor,
met waaksaamheid die oseaan,
met inspanning kom mens by ellende verby,
met wysheid kom mens skoon.’‘Hoe verkry mens wysheid?
Hoe vind mens rykdom?
Hoe behaal mens roem?
Hoe bind mens vriende aan jou?
Hoe vermy mens droefheid na jou heengaan?’‘Deur te vertrou op die waarheid van die volmaaktes
bereik jy nibbana,
deur noukeurig en aandagtig te luister
verkry jy wysheid,deur geduldig en hardwerkend te doen wat gepas is
vind jy rykdom,
deur waarheid
behaal jy roem,
deur te gee
bind jy vriende aan jou,deur ’n getroue huisman te wees met die viertal
waarheid, regverdigheid, bestendigheid en vrygewigheid
vermy jy droefheid na jou heengaan.Gaan vra ander brahmane en askete of daar enigiets hoër te vind is as
waarheid en beslistheid, vrygewigheid en geduld.’‘Waarom sou ek ander brahmane en askete uitvra?
Vandag weet ek wat môre my welsyn sal wees.Voorwaar, tot my voordeel het die Boeddha by my in Alavi tuisgekom.
Vandag weet ek waar ’n geskenk die beste vrug sal dra.Ek sal van dorp tot dorp en stad tot stad swerwend eer betoon
aan die hoogste Verligte en die waarheid van sy leer.’