Sutta Nipāta 2.1

Drie juwele

Of die wesens wat hier bymekaargekom het
op aarde woon of in die lug,
mag hulle almal gelukkig wees
en mag hulle aandagtig na wat hier gesê word luister.

Daarom, luister hierna, alle wesens:
bewys welwillendheid teenoor die menseras wat dag en nag hul gawes bring.
Beskerm hul dus met sorg.

Watter rykdom daar ook al in hierdie of ’n ander lewe is
of watter skitterende juweel in die hemel,
die gelyke van die Volkome is dit nie.
In die Boeddha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Die stil van hartstog, die glansende staat van nie-dood
het die kalm wyse van die Sakya-stam bereik.
Niks is van dié leer die gelyke nie.
In die dhamma is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Die hoogste Boeddha het die suiwerheid
van meditasie sonder onderbreking aangeprys,
waarvan ’n gelyke nie gevind word nie.
In die dhamma is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Die agt persone wat geprys word vorm vier pare,
die gelukkige dissipels van die Welvarende.
Wat aan hulle gegee word, dra baie vrug.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Die sterk gees, van begeerte bevry en vas in die leer van Gotama,
het die hoogste bereik, die staat van nie-dood betree,
geniet geluk sonder prys.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Soos ’n stadspilaar stewig in die grond geplant
voor die vier winde nie beef nie,
so noem ek die groot mens wat diep in die edel waarhede sien.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Selfs nalatiges wat die edel waarhede goed verstaan,
onderrig deur die een met onpeilbare wysheid,
sal nie ’n agtste lewe opneem nie.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Wie insig bereik verlaat dié drie dinge:
die waan van eie substansie. twyfel, beheptheid met reël en regulasie.
So een is verlos van die vier helse toestande
en tot die ses doodsondes nie in staat nie.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Van hom wat die weg gesien het word gesê
dat hy sy bose handeling nie kan verberg nie,
of dit nou in daad of woord of gedagte gedoen is.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Soos in die eerste warm somermaand toppe fleurig uitstoot bo die woud,
so strek die helder waarheid van sy leer
fit na nibbana, die hoogste goed.
In die Boeddha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Die uitnemende kenner, gewer en brenger van die uitnemende,
die onvergelyklike een,
het die uitnemende dhamma verkondig.
In die Boeddha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Die wyses gaan uit soos hierdie lamp—
die oue afgesny, die nuwe nie aan groei,
gees los van leef hierna, bestaansade vernietig, geen drif om te herleef.
In die sangha is die skitterende juweel.
Mag daar deur hierdie waarheid vrede wees.

Of die wesens wat hier bymekaargekom het
op aarde woon of in die lug,
laat ons neerbuig voor die volkome Boeddha, deur gode en mense vereer.
Mag daar vrede wees.

Of die wesens wat hier bymekaargekom het
op aarde woon of in die lug,
laat ons neerbuig voor die volkome dhamma, deur gode en mense vereer.
Mag daar vrede wees.

Of die wesens wat hier bymekaargekom het
op aarde woon of in die lug,
laat ons neerbuig voor die volkome sangha, deur gode en mense vereer.
Mag daar vrede wees.