Sutta Nipāta 2.8
Die boot
Die een van wie jy die waarheid leer
moet jy eer soos die gode Inda eer
en hy sal met helder gees en kennis
die waarheid openbaar.As jy noulettend die geselskap van so een koester
en jou met sy saak vereenselwig
betree jy die pad van waarheid en reg
en verwerf jy insig fynsinnig.Maar as jy ’n kleingeestige dwaas volg
wat self nie die doel bereik het nie en afgunstig is,
sal jy sonder insig in die waarheid sterf,
sonder om twyfel te oorskry.Hoe kan ’n man wat in ’n rivier geval het,
in ’n diep en vinnige stroom.
en deur die vloed meegesleur word,
ander help om dit oor te steek?Hoe kan ’n man wat geen insig in die waarheid het nie,
wat nooit geluister het na die uitleg van die geleerdes nie,
wat self onkundig is en twyfel nie oorskry het nie,
ander help om dit te verstaan?Soos wanneer iemand in ’n sterk boot
toegerus met spane en ’n roer sou inklim
en met vaardige vernuf en versigtig
baie ander na die verste oewer sou vervoer,so kan iemand wat die hoogste kennis verwerf het
en ’n ontwikkelde gees het, geleerd en onverstoorbaar,
ander wat bereid is om te luister
help om te verstaan, omdat hy self weet.Daarom, koester die vriendskap
van ’n waardige mens, wys en geleerd.
Wie die wese van dinge verstaan en die weg bewandel,
wie tot die waarheid deurgedring het, sal geluk verkry.