Sutta Nipāta 2.9

Deug

‘Watter deug, watter lewenswyse, watter dade moet ’n mens beoefen
om volkome gevestig te wees en om die hoogste doel te bereik?’

‘Laat hom ouer mense eer, nie afgunstig wees nie,
weet wanneer om sy leermeester te sien
en wanneer om aandagtig te luister
na die goeie onderrig.

Laat hom op die regte tyd voor die meester verskyn
en nederig weerbarstigheid aflê.
Laat hom die doel en die dhamma in gedagte hou
en selfbeheersing en kuisheid beoefen.

Laat die dhamma sy tuin wees waar hy vreugde vind en stil rus,
wat hy van hoek tot kant leer ken.
Laat hom niks sê wat tot nadeel van die dhamma is nie.
Laat hom sy tyd met welgesproke woorde vul.

Laat hom afstand doen van
verspotheid en gulsigheid, klaerigheid en haatlikheid,
skynheiligheid en bedrieglikheid, gulsigheid en hooghartigheid,
voortvarendheid en ruheid, onsuiwerheid en versotheid,
en laat hom sober, bestendig leef.

Om te verstaan is die bedoeling van woorde wat goed geuit word,
om te ken en te verstaan die bedoeling van versinking.
Daar is geen wasdom in die wysheid en kennis
van hom wat haastig is of traag nie.

Wie vreugde vind in die dhamma soos deur die edeles geleer
munt uit in spreke, in gees, in werke.
Goed gevestig in vrede, in mildheid, in versinking
dring hulle deur tot die wese van kennis en van wysheid.’